Creation Science Information & Links!
Psalms 1, 51, 100 & 150
Psalms 1 • 51 • 100 • 150 - in Afrikaans
Psalm 1

1Gelukkig is die mens wat nie loop volgens die raad van goddeloses, of staan op die pad van sondaars, of sit in die vergadering van spotters nie. 2Hy vind egter vreugde in die gebooie van die Here en oordink sy voorskrifte dag en nag. 3Hy is soos ’n boom geplant langs waterstrome, wat vrugte dra op die regte tyd. Sy blare verwelk nie; in alles wat hy doen, is hy voorspoedig. 4Maar dit geld nie vir die goddeloses nie. Hulle is soos kaf wat die wind verstrooi. 5Daarom sal goddeloses nie voortbestaan in die oordeel, of sondaars in die geselskap van regverdiges nie. 6Want die Here waak oor die pad van die gelowiges; maar die paaie van die goddeloses lei tot ondergang.
 

Psalm 51

1Vir die koorleier: ’n Dawidspsalm, 2toe die profeet Natan na hom toe gekom het oor sy owerspel met Batseba. 3Wees my genadig, o God, volgens u troue liefde. Wis tog my sonde uit, op grond van u barmhartigheid. 4Was my skoon van my skuld. Reinig my van my sonde.5Want ek ken my oortredings en my sonde is gedurig voor my. 6Teen U, U alleen, het ek gesondig; ek het gedoen wat vir U verkeerd is. Daarom is u uitspraak reg en u oordeel regverdig. 7Want ek is as sondaar gebore, en was dit toe my ma wanger geword het. 8Maar U verwag waarheid in die hart. U leer my om wysheid te besit. 9Neem weg my sonde met hisop sodat ek skoon kan wees, was my dat ek witter as sneeu kan wees. 10Gee my tog weer blydskap en vreugde; U het my stukkend gebreek, laat my weer vol vreugde wees. 11Moenie let op my sondes nie, en wis al my oortredings uit. 12Skep vir my ’n rein hart, o God. Gee my ’n nuwe, standvastige gees. 13Moenie my verban wég van u teenwoordigheid nie, en moenie u Heilige Gees van my af wegneem nie. 14Gee my tog weer die vreugde van u redding en maak my gewillig om U te gehoorsaam. 15Dan sal ek oortreders u weë leer, sodat sondaars hulle tot U sal bekeer. 16Verlos my van bloedvergieting, God, my Redder-God. Dan sal ek voluit sing van u regverdigheid. 17Help my om te praat, Here, sodat ek u lof kan verkondig. 18U verlang nie offers nie, anders sou ek dit bring. Selfs brandoffers wil U nie hê nie. 19Die offer wat U wil hê, o God, is ’n gebroke gees. ’n Gebroke en berouvolle hart sal U nie verwerp nie, o God. 20Wees genadig oor Sion, volgens u goedheid; herbou tog die mure van Jerusalem. 21Dan sal die voorgeskrewe offers vir U aanneemlik wees, brandoffers, ja, offers wat heeltemal verbrand word. Dan sal hulle weer bulle op u altaar offer.
 

Psalm 100

1 ‘n Psalm. By die lofoffer. Juig voor die HERE, o ganse aarde! 2 Dien die HERE met blydskap; kom voor sy aangesig met gejubel. 3 Erken dat die HERE God is: Hy het ons gemaak, en ons is syne, sy volk en die skape van sy weide. 4 Gaan sy poorte in met lof, sy voorhowe met lofgesang; loof Hom, prys sy Naam. 5 Want die HERE is goed; sy goedertierenheid is tot in ewigheid, en sy trou van geslag tot geslag.
 

Psalm 150

1 Halleluja! Loof God in sy heiligdom, loof Hom in sy sterk uitspansel! 2 Loof Hom oor sy magtige dade, loof Hom na die volheid van sy grootheid! 3 Loof Hom met basuingeklank, loof Hom met harp en siter; 4 loof Hom met tamboeryn en koordans, loof Hom met snarespel en fluit; 5 loof Hom met helder simbale, loof Hom met klinkende simbale! 6 Laat alles wat asem het, die HERE loof! Halleluja!


Psalms 1 • 51 • 100 • 150
http://www.creationism.org/afrikaans/saPs1_51_100_af.htm

Tuisblad:  Afrikaans
www.creationism.org