Onmoontlike Sending: Die Koningsvlinder
Deur Ron Lyttle      Vertaal deur:  Kobus Grobler
http://www.creationism.org/afrikaans/monarch_af.htm
Die koningsvlinder, wetenskaplike naam Danaus plexippus, is 'n groot, oranje en swart vlinder wat algemeen in groot gedeeltes van Noord-Amerika voorkom. Dit is veral bekend vir die jaarlikse migrasie wat na en van oorwinteringsgebiede in Meksiko en Kalifornië onderneem word, sien National Geographic, vol. 150, no. 2, Augustus 1976.

Die koningsvlinder begin sy lewe as 'n eiertjie wat deur die wyfie op die blare van die melkbos, Asclepias syriaca gelê word. Hierdie eiertjie is ongeveer die grootte van 'n speldekop. Wanneer die eier 3 tot 12 dae later uitbroei, kom daar 'n piepklein geel-, wit- en swartgestreepte wurmagtige larf, of ruspe, wat agt pare kort, vet bene het om mee rond te kruip, met monddele wat ontwerp is om blare te kou: Iets wat die outjie met mening doen. Hierdie ruspe eet slegs die blare van die melkbos en geen ander plant nie. Die melkbos se sap is 'n wit, klewerige sap wat hoogs giftig is vir ander diere, maar die ruspe word glad nie daardeur geraak nie. Die gifstowwe veroorsaak egter dat die ruspe se weefsels giftig is vir roofdiere soos voëls wat die diertjie vir ete mag aansien. Voëls is nie dom nie en laat die outjie met rus.

Soos die ruspe meer en meer eet, word dit groter. Binne 'n ommesientjie raak hy te groot vir sy vel, die vel bars oop en die ruspe kruip na buite met 'n rekbare vel waarbinne hy weer kan groei. Dit is wat die ruspe vir 'n volle twee weke doen: Vreet blare, groei, vervel, eet meer blare, vervel. Hierdie proses herhaal hom vyf keer.

Uiteindelik hou die ruspe om met vreet, soek na 'n beskutte plek, hang onderstebo, spin 'n sydraadjie en vervel vir 'n laaste keer. Wat egter hieruit vorendag kom is nie 'n groter ruspe nie, maar 'n kompakte pakkie met geen pote en oë nie en geen sigbare liggaamsdele nie: 'n papie, toegevou in 'n harde dop, die chrisalis. Dit is nou nie meer veelkleurig soos die ruspe nie, maar heldergroen met goudgeel kolle.

Daar vind nou geen beweging meer plaas nie, maar aan die binnekant beweeg dinge tog wel. Die hart klop steeds, maar die res van die inwendige organe lyk nou meer soos groen jellie, soos die weefsel in 'n totaal nuwe organisme vervorm word. Die groen kleur verdonker en word later bruin. Vir die oningeligte waarnemer mag die pakkie leweloos lyk, maar geleidelik word die kleur gemodifiseer soos wat die chrisalis deursigtig raak. Oranje en swart areas begin sigbaar raak: Die kleure van die volwasse vlinder.

Eindelik, na twee weke, bars die chrisalis oop en 'n volwasse vlinder tree te voorskyn. Dit beskik oor ses pote, 'n bek wat gevorm is uit 'n lang buis, die proboskis, waarmee die vlinder diep binne blomme na nektar kan soek en twee pare opgefrommelde vlerke wat vinnig uitsit wanneer vloeistof vanuit die liggaam in hulle ingepomp word. Terwyl die vlerke ontvou, waai die vlinder hulle stadig heen-en-weer met sy nuwe vliegspiere om droog te word totdat hulle styf is en reg is om mee te vlieg.

Binnekort skiet die vlinder weg in die lug om in iemand se tuin gevind te word, besig om nektar te drink met sy proboskis, of besig om oorheen te vlieg op soek na 'n maat om die hele proses van vooraf te begin.


Jou opdrag as evolusionis, indien jy die uitdaging aanvaar, is om te verduidelik HOE hierdie transformasie HOEGENAAMD kon plaasvind deur blote toeval, deur 'n opeenvolging van genetiese foute sonder ENIGE DOEL, met GEEN INTELLIGENSIE betrokke, gelei slegs deur oorlewing van die sterkste soos wat een of ander primitiewe organisme sonder vlerke in 'n vlinder ontwikkel het.

Watter een van die stadiums van die proses genaamd volledige metamorfose, kan jy vir 'n wyle agterweë laat omdat die toevalle wat daartoe sou lei nog nie plaasgevind het nie? As selfs net een ensiem ontbreek, hoe kon die transformasie van eier-tot-larf-tot-papie-tot-volwassene plaasvind? Al die stappe moes teenwoordig en funksioneel wees op die regte tyd en in die regte volgorde, anders het die organisme gesterf. Alles werk, of niks werk nie.

Moet net nie vir my een of ander sopstorie bring nie: Ek soek wetenskaplik gefundeerde verduidelikings wat 'n genetikus nie as belaglik sal afmaak nie. Moet dit ook nie bloot 'Moeder Natuur se wonderwerke' noem nie, tensy jy bereid is om intelligente, skeppende ontwerp raak te sien in die god wat jy Moeder Natuur noem.  ...Hierdie artikel sal nie homself vernietig nie.
 

"Onmoontlike Sending: Die Koningsvlinder"
<http://www.creationism.org/afrikaans/monarch_af.htm>

Tuisblad:  Afrikaans
www.creationism.org